Uncategorized

Fochville Geskiedenis

Fochville…in die begin…

Fochville is geleë op die hoofpad tussen Johannesburg en Potchefstroom, omring van die Wes-Transvaalse myndorpe Carletonville en Westonaria noord en die rustige Vrystaatse dorp, Parys, ongeveer 40km na die suide, binne maklike bereik van beide die Goudstad en die Vaaldriehoek.

Met tipiese hoëveld klimaat en ryk aan inheemse borne en struike, is Fochville soos ‘n oase omring deur die Losberg en Gatsrand rante.

Reeds so vroeg as 1836 vestig die eerste boer, ene mnr Harmse hom in die gebied, op die plaas Buffeldoorns (ook elders gemeld) terwyl mnr. Erasmus die eerste grondkoper was wat kaart-en-transport van die Zuid- Afrikaanse Republiek gekry het in ongeveer 1852. Hy rig ook’n woonhuis op aan die voet van Losberg. In 1857 koop ‘n mnr. Dreyer die plaas Kraalkop, ongeveer 4000 morg groot, vir die bedrag van 750 riksdaalders. Die plaas Kraalkop se naam is ontleen van die baie bantoekrale op die omliggende koppe. Ongeveer in dieselfde tyd word ook die plaas Sandfontein vir dieselfde bedrag aangekoop.

Verskeie ander volg en spoedig word die plase bewoon en bewerk deur Schuttes, Dreyers, Vermaase, Du Plessis’s, Pienaars en ander. Die bestaan van twee skole in 1900 kon nagespeur word, nl. een by Buffeldoorns en een aan die voet van Losberg.

In 1920 word Fochville tot dorp geproklameer en beslaan 900 hektaar munisipale grond, gedeeltelik geleë op die plaas Leeuwspruit no 200 in die suide en Kraalkop no 290 aan die noorde, plase van onderskeidelik mnre. Jan en Freek Pretorius en mev. Bertha Bosman. Die grond is aangekoop teen ses pond tien sjielings (R13) per morg en opgedeel in erwe, Fochville het sy ontstaan te danke aan twee Joodse inwoners, ene mnre. Wulfsohn en Horvitz na wie elk ‘n straat vernoem is. Verskeie plekke is geïdentifiseer as moontlike plekke vir die ontwikkeling van ‘n dorp. Aanvanklik sou dit langs die spruit beplan word sodat ‘n opgaardam gebou kon word om die plaaslike bevolking van water te kon voorsien.

Weltevrede, Elandsfontein en die omgewing van die huidige stasie is ook as moontlike middelpunte van Fochville in aanmerking geneem. Tydens ‘n vergadering vir alle belanghebbendes op die plaas van mnr. Theunie Steyn word die aangeleentheid bespreek. Verskeie bekende inwoners was op die vergadering teenwoordig, o.a. mnre. Piet Davidtz, Helgaardt du Preez, Gawie en Johan Klein, en daar word op die huidige ligging besluit. Die man wat verantwoordelik was vir die opmeting van die erwe was op ‘n stadium siek, en mnr. Ellik Steyn het ingestaan.

Na proklamasie het algemene handelaars hulle ondernemings op die dorp begin. Mense soos mnre. Horvitz, Wulfsohn en Barney Kretchmar was die pioniers op die gebied. Die meeste winkels was in Presidentstraat geleï en Fochville groei nou teen ‘n bevredigende pas. In 1951 word munisipale status verkry.

Die eerste verkose raadslede was dr. J. T. Roux (voorsitter), en mnre. H. Ferreira, F. Postma en dr. R. E. Dunning. Binne twee jaar word elektrisiteit aangelei en in dieselfde jaar word die munisipale kantore opgerig. In 1962 word die munisipaliteit kragtens die Bantoestadsgebiedwet, as ‘n voorgeskrewe gebied geproklameer en in 1963 bou Western Deep Levels 250 woonhuise in die sentrale deel van die dorp en dra so by tot die sneller ontwikkeling van die dorp.
Met die ontwikkeling van die dorp op dreef, word die sentrale watervoorsiening ontoereikend en moet daar oorgeskakel word na die Rand-waterraad om in die behoefte na water te kan voorsien.

Vyftien jaar nadat die dorp munisipale status verkry het, word dit tot ‘n stadsraad verhoog. Die eerste Raadslede was mnre. J. A. de Lange (Burgemeester), M. J. van Staden, M. Ackerman, W. Swart, J. J. Kruis, W. de Vos, W. J. Joubert, A. J. G. Steyn en J. J. Greyling.

Soos met enige ontwikkelende streek is daar basies ‘n chronologiese volgorde van gebeure, nl. polisie en vrederegter, skole, gesondheidsdienste en dorpsontwikkeling. In die normale verloop van daaglikse sake was daar saam met die swaar dae ook die meer komiese geleenthede om te waardeer in die latere dae. Buiten die ontwikkeling van skole soos reeds gemeld, was die polisie die volgende wat op die toneel verskyn het met ‘n pos by Kraalkop (waar vandag se vendusiekrale is). Ene Lerm was toe die polisiebevelvoerder. Later volg konstabels Quinn en Piet Benade. Saam met vrederegter Davidtz was hulle verantwoordelik vir die algemene ordelike verloop van sake op ‘n dorp wat toe bestaan het uit een winkel en ‘n paar huise. Tydens die verhoor van ‘n meer emstige saak het vrederegter Davidtz in sy uitspraak, die beskuldigde met die volgende woorde tereggewys: “Fochville is ‘n groot dorp, dit moet nog net gebou word”. In n terugblik op 70 jaar se vooruitgang was dit nogal nie ‘n verkeerde voorspelling nie.

‘n Interessante staaltjie waarby ‘n polisieman betrokke was, was die geval van die “buurman se vark”. Ene sersant Visser het las met sy buurman, Piet de Vries, se vark gehad wat alewig sy groentetuin omgedolwe het. Om die goeie buurmanskap te behou, jaag sers. Visser dan maar die dierasie deur die heining na sy baas toe, min wetend dat sy buurman dieselfde probleem het, en telkens die vark na sy baas, sers. Visser, toe jaag; ook om goeie buurmanskap te handhaaf. Tot op ‘n dag dat sers. Visser besluit tot hiertoe en nie verder nie, en besluit om oor te stap na buurman Piet de Vries toe om die saak op te klaar. Hy versoek toe sy buurman om asseblief sy vark op hok te hou. Groot was sy verbasing toe Piet h6m versoek om sy vark asseblief op hok te hou In die daaropvolgende konfrontasie word dit toe eers vir die twee duidelik dat dit ‘n rondlopervark was wat homself spekvet in hulle tuine gevreet het. Die straf of lot van die vark kon nie vasgestel word nie, maar dat die goeie buurmanskap daarna geseëvier het, is wel bevestig.

Oor die vraag of die polisie lui was, sou ‘n mens nou nie graag wou bespiegel nie, maar wat wel vir ‘n feit vertel word, is dat die konstabels die distrik maandeliks moes deurgaan en by elke plaas besoek moes aflê. Om te bevestig dat hy wel daar was, moes hy dan die plaaseienaar se register, wat spesiaal vir sy besoeke gehou is, onderteken.

Met die dorpsontwikkelingsaspek moet genoem word dat die eerste dorpenaars oom

Ou perdestal
Die ou perdestal wat as klubkamers deur die Voortrekkers gebruik is.

Koos en tant Malie Schoeman was. Alhoewel hulle huis in Skoolstraat geleë was, het hy boorde, tuine en landerye aangelê tussen 5e, 7e en Lusernstraat. Onder andere verbou hy ook tabak, waarvoor hy water met ‘n donkiekar uit Loopspruit uit aanry. Die granate het hy dan aan die “Jode” verkoop, want dit was dan so goed vir die hart! Oom Koos was ook die plaaslike “Blacksmith” en die waens wat herstel moes word, is op die plein oorkant die hedendaagse droogskoonmakers geparkeer. Oom Koos moes hulle egter later daar verwyder, aangesien die waens te veel beskadig is tydens politieke vergaderings (gevegte?).
Oom Koos en tant Malie se seun Japie, (5/3/1921) was die eerste kind wat in Fochville gebore is.
Nadat oom Koos leiwater aangelê en boorgate gesink het, kon hy groente op groot skaal aan die dorp voorsien. Altyd opgeruimd en vriendelik het hy daagliks met sy trollie en twee perde sy aflewerings by die hotel en huise gedoen.
Fochville het ook sy eie besondere sport beoefen, naamlik gewigstoot. Op die plein waar die poskantoor vandag is, het die opgeskote seuns bymekaar gekom om elkeen sy slag te wys met die klip. Dat dit van ‘n redelike grootte was is gewis en buiten die blou toonnaels so af en toe, was die sport besonder veilig.

Kattekwaad was ook aan die orde van die dag en het onder andere bestaan uit toktokkie speel, vrugte steel en om mnr. Liebsen se hoenders uit sy agterplaas te steel en dit dan weer by se winkel aan hom te gaan verkoop. Dit is blykbaar gestaak toe hulle eendag daar aankom om sy hoenderhaan aan hom te verkoop en hy dit onomwonde aan die kwajongens stel dat hy “nie so ‘n gemors-ding op sy werf wil hê nie”.

Handpomp
Handpomp wat op erf 663 – die huidige Taxi staanplek, gestaan het. Huidig staan dié pomp by Laerskool Fochville
Koos en Anna Schoeman
Koos en Anna Schoeman en dogter Poppie (mev. Naude) tydens die 1938 Groot Trek Herdenking. Ouers van die eerste kind wat in Fochville gebore is, en eertydse “Blacksmith”.

Grappies en foutjies het ook voorgekom, soos die haarkapper, oom van Deventer, ‘n wewenaar, met sy knipoogaanwendsel. Op ‘n dag stuur hy vir tant Annie, ‘n weduwee, ‘n tuisgebakte koek. Die stuurjonge kon egter nie met die knipoog en die weduwee die kloutjie by die oor bring nie en die koek beland toe by ‘n ou wewenaar. Die eet sonder om twee keer te dink die helfte op en stuur die res vir sy buurman. Nodeloos om te sê dat niks van die koek by tant Annie uitgekom het nie.
Oor vervoer in die dorp kan ook baie gesê word: van donkiekarre wat water van die spruit af aangery het, tot donkies wat verkeerd om ingespan was, sodat elkeen in sy eie rigting beur. Van grondpaaie en model T-Fords tot teerpaaie en luukse sedans, het Fochville almal aanskou. Deur die inisiatief van wyle mnr. C. Brits, L.V. vir Losberg, bestaan daar reeds sedert 1928 spoorverbinding tussen Potchefstroom en Fochville. Later is die spoorlyn verleng na Vereeniging, verander na hooflynsterkte en geëlektrifiseer. Op Maandag, 25 Oktober 1965, was Fochville in rep en roer met die opening van die nuwe stasiegebou. Almal wat belangrik was, was daar. Met Sy Edele Minister B. J. Schoeman aan die stuur kom die seremoniële trein die stasie binne, begelei deur tamboernooientjies van die Laerskool Fochville. Mnr. S. G. J. van Niekerk L U K, was die seremoniemeester, terwyl Minister N. Diederichs (LV Losberg), Minister B. J. Schoeman, die minister van Vervoer, aan die woord gestel het.
Fochville het ook gesorg vir tradisie op ander plekke, soos by die Onderwys kollege op Potchefstroom (POTE). Wanneer lekker nagereg bedien word, sê die senior studente: “Die eerstejaars is vandag op Fochville” en dan mag geen eerstejaar nagereg neem nie. POTE bestaan al 71 jaar en van sy oudste studente wat opgespoor kon word, bevestig dat die tradisie al in hulle tyd bestaan het.

Fochville…Die naam? Of nie die naam?

Standbeeld van Ferdinand Foch
Die indrukwekkende standbeeld van Maarskalk Ferdinand Foch, die man na wie Fochville vernoem is. Hierdie beeld staan op ‘n plein in Londen, Engeland.

Ferdinand Foch was ‘n Franse maarskalk en bevelvoerende offisier van die geällieërde magte teen die einde van die Eerste Wêreld oorlog. Hy is gebore op 2 Oktober 1851 en oorlede op 20 Maart 1929. Sy oorskot is weggelê “under the dome of the Invalides” waar o.a. ook Napoleon sy laaste rusplek gevind het.

In 1870 word hy offisier en op 26-jarige ouderdom ‘n kaptein as kavalleris. In 1914 veg hy in die woestyne en bosse van Noord-Afrika. Later word hy bevelvoerder van verskeie militêre afdelings, asook militêre instrukteur. Sy loopbaan is gekenmerk deur teenstrydigheid en hy het hom ook met die mistieke bemoei. Twee van sy “oorlogs-memoires” is later in Frans en Engels gepubliseer.

M Ferdinand Foch
Maarskalk Ferdinand Foch

Dis interessant om te weet dat daar mense was wat glad nie met die naam “Fochville” gediend was nie – so was daar ‘n ernstige poging om dit te verander in 1938.
Die Eeufeeskomitee het op sy vergadering van 1 November 1938 besluit om ‘n nuwe naam vir Fochville te kry. Name wat genoem was, is Louis Botha; Eeufeesdorp; Paul Kruger; Losberg; Voortrekker; Bloemensteyn en Losbergdorp. Die vergadering het toe besluit op die naam “Losberg”. Mnre. P. A. Vermaas, 6. P. Brits (LV) en ds. G. Nel is toe afgevaardig na Pretoria om hierdie saak te gaan “voortdrywe”.

Hierdie naamsverandering is egter op 11/11/1939 deur provinsie afgekeur op grond van die Registrasie van Aktes, Wet van 1937.

Fochville Munisipaliteit

Reeds vanaf die vroegste pioniersdae, was Fochville bestem om tot ‘n belangrike dorp aan die voet van die Losberg te ontwikkel. Die omgewing is ryk aan historiese geskiedenis, wat strek vanaf die dae van die Groot Trek toe ossewawiele oor die Gatsrand gerol het.

Op 15 November 1920 is Fochville as dorp geproklameer. Die dorp het bestaan uit 900 ha munisipale gebied wat, vroeër aan die Kraalkop Boere-agentskap behoort het. Hierdie grond is in 1920 in woon-erwe opgedeel.

Fochville het sy ontstaan te danke aan twee Joodse inwoners, mnre. Philip Wulfsohn en Horvitz, na wie twee strate op die dorp vernoem is. Voor die proklamasie van die dorp, is die twee aangemoedig om ‘n dorp in die omgewing te stig vanweë die strategiese ligging.

Op 6 Augustus 1920 is die eerste Gesondheidskomitee vir die pragtige dorpie Fochville gekies. Die komitee se kantoor was gehuisves in die geboutjie wat net wes van die ou Stadsaal geleë was. Tans staan die President Hyper op hierdie terrein. Wyle mnr. Jack Hoffman was die eerste voorsitter terwyl mej. Joey van der Westhuizen die eerste sekretaresse was.

Vir bykans drie dekades was mej. Van der Westhuizen in diens van die dorpsraad. Sy het vir ‘n salaris van R6 (drie pond) gewerk en ten einde dit aan die einde van die maand te kon aanvul, moes sy soms myle in haar Model T-Ford, TAU 1, afry om belastinggeld in te vorder.

In die dertigerjare was ds. G. Nel van die N. G. Gemeente Losberg ook lid van die Gesondheidskomitee. Hy het hom beywer vir die aanplanting van sierbome rondom die uitgemete terreine vir parke in die dorp.

Twee van die parke is later deur die N. G. en N. H. Gemeentes van die dorpsraad verkry vir die bou van hul kerke, in ruil vir ander erwe. Dit verklaar die aanwesigheid van dennebome aan die suidekant van die huidige President Hyper terrein en op die terreine van die voorgenoemde kerke.

Op 1 Augustus 1951 is die status van die dorp verhoog na die van ‘n dorpsraad. Die lede van die eerste Dorpsraad was dr. J. T. Roux (voorsitter), mnr. H. Ferreira (onder-voorsitter), dr. R. E. Dunning, mnr. H. Rademeyer, mnr. F. Postma en H. Thomas met mnr. W. Janson as sekretaris.

Vroeg in 1963 het Western Deep Levels 250 huise in die sentrale deel van die dorp gebou, wat bygedra het dat die lewenstempo versnel het.

Fochville Burgersentrum
Fochville Burgersentrum
Die Oud-Burgemeesters tydens die oorhandlging is: Agter: Rdle. E A. Swanepoel, G. V. Pretorlus, P. Viljoen, H. Wolder en M. J. van Staden Voor: Rdle. G. J. J. van Rensburg, D. A. Net, J. J. Kruis, A. J. G. Steyn en A. J. de Lange
Die Oud-Burgemeesters tydens die oorhandlging is:
Agter: Rdle. E A. Swanepoel, G. V. Pretorlus, P. Viljoen, H. Wolder en M. J. van Staden
Voor: Rdle. G. J. J. van Rensburg, D. A. Net, J. J. Kruis, A. J. G. Steyn en A. J. de Lange

Op 19 Oktober 1966 is die status van die dorp andermaal verhoog na die van ‘n stadsraad. Die lede van die eerste Stadsraad was, mnre. J. A. de Lange (BM), M. J. van Staden, M. Ackerman, W. Swart, J. J. Kruis, W. de Vos, W. J. Joubert A. J. G. Steyn en J. J. Greyling.

Die Stadsraad vanaf Oktober 1988 tot Oktober 1993 was mnr. P. Viljoen (BM), A. de W. van Breda (O-BM), G. J. J. van Rensburg (voors. BK), D. J. Erasmus (O/voors. BK), M, C. van Niekerk, Raadsheer M. G. Haupt, J. L. van Heerden, P. J. Spies en dr. A. Kloppers.

Die kantore van die stadsklerk, stadsekretaris, stadstesourier, asook die dorpsbiblioteek, is gevestig in die pragtige nuwe Burgersentrum wat op 20 Mei 1990 in gebruik geneem is. In ‘n pragtige raadsaal in hierdie nuwe kompleks, word besin oor die toekoms van hierdie dorp: Fochville.

D Nel
Die raadslid met die langste dienstermyn, mnr. D. Nel. Hy was vir bykans 17 jaar ononderbroke op die Raad. Hy was burgemeester gedurende 1976 – 77; September tot Maart 1977 – 78 en 1983 – 84. Hy was onder andere onderburgemeester en het ook ‘n tyd lank op die bestuurkomitee diens gedoen.

Stadsraad van Fochville

Raadslede en amptenare tydens ingebruikneming van Burgersentrum

22 Mei 1990

Fochville Stadsraad 1990
Voor: Rdl. D. J, Erasmus, rdh. G. M. Haupt, rdle. A. de W. van Breda (onderburgemeester), P. Viljoen (burgemeester), G. J. J. van Rensburg, M. C. van Niekerk, J. L van Heerden, P. J. Spies en dr. A. Kloppers.
2de ry: Mev. H. Cronje, W. Coetzee, £ Alexander, A. Maritz, C. Dippenaar, A. Theron, C. Swanepoel, W. Labuschagne, A. Viljoen, J. Nursey, B. Mitchley.
3de ry: Mev. M. Truter, E. v. d. Berg, mej. H. Heystek, mev. P. le Roux, J. Hattingh. C. Wolmarans, A. Slabbert, M. Boshoff, C. Ludick, A. v. d. Merwe, S. Laubscher.
4de ry: Mnre. L le Roux, I. Cronje, F. Visagie, D. Schmidt, W. Wessels, G. Botha, D. Miles, J. v. Rensburg, T. v. d. Walt, J. Botha, mev. P. Net.
5de ry: Mnre. J. v. d. Berg, W. Els, P. du Plessis, L, du Plessis, L. Smit, L. Nortje, P. Robbertse, P. Greyling, H. Kasselman, J. Lambrechts.
6de ry: Mnre. J. Kriek, L Kruger, A. Nieuwoudt, P. Simon, P. Tolmay, A. Botha, F. du Preez, J. van Wyk, P. van Niekerk, C. van Vuuren, L le Roux, N. Uys, C. Kriek, J. Bartlett, A. W. Rheeder (stadsklerk).

Fochville Stadsraad 1967/68

Stadsraad 1967
Agter: Van links na regs: H.P. Potgieter (Klerk van die Raad), Rdle. A. J. G. Steyn, IV. Smart, M. J. van Staden, J. J. Greyling en P. L. J. van Rensburg (Stadsklerk)
Voor: Van links na regs: Rdle. W. de Vos, M. P. Ackermann (Voorsitter Bestuurskomitee), A. J. de Lange (Burgemeester), J. J. Kruis (Onder-Burgemeester) en W. J. Joubert.

Fochville Stadsraad 1990

stadsraad 1990
Voor: Rdl. dr. A Kloppers, Rdh. J. Haupt, Rdl. P. Viljoen (Burgemeester), Rdl. A de W. van Breda (Onder Burgemeester), Rdl. D. Erasmus (Onder-Voorsitter: Bestuurskomitee)
Agter: Rdl. J. L van Heerden, Rdl. H. van Niekerk (Bestuurskomitee lid), Rdl. G. van Rensburg *Voorsitter Bestuurskomitee), Rdl. P. Spies

werkswinkelDie Werkswinkelkompleks in Danie Theronstraat-Noord wat op 18 Maart 1987 amptelik in gebruik geneem is en waar die departemente van die Stadsingenieur en Hoof: Tegniese Dienste gehuisves is. Nadat die ou Stadsaal gesloop is, was dit ook die tydelike tuiste van die departement van die Stadsekretaris en die Stadsklerk.

Piet Viljoenpark Lapa
Die groot lapa in die Piet Viljoenpark pas na voltooiing. Die prentjie lyk vandag totaal anders en die lapa is ‘n uiters gewilde bymekaarkomplek vir kleinerige funksies.